Ek dink elke dag daaraan. Dis asof die gebeurtenisse in laerskool steeds aan my vas klou soos ’n kat met skerp kloue wat diep in my vel in boor. Dit skeur beide ou en nuwe wonde oop wat ek myself aangedoen het, en wonde wat ander vir my gegee het. Ek wens ek het geweet hoe om die wonde permanent toe te maak. En ek wens ek het geweet hoe om dit net te laat gaan en te vergeet dat dit ooit gebeur het.
Verwerping is een van die emosies wat ek op ’n baie vroeë ouderdom ontdek het. Ou en redelik onduidelike herinneringe, soos daai keer in graad 6 toe Carla ’n lelike briefie vir my in klas gestuur met ’n mannetjie wat sy aspris lelik geteken het en daar was ’n pyltjie getrek waarop daar “Jy” gestaan het. “Ek” was daardie lelike mannetjie met sproete oor my gesig en ’n deurmekaar bos rooi hare waarvoor almal sou lag. En ek, denkende dat ek haar moet terugkry, het ’n paar veranderinge aan die mannetjie gemaak en die briefie terug vir haar gestuur. Daardie selfde dag het die juffrou my geroep na klas. Blykbaar het ek lelike briefies vir die klas gestuur. Maar juffrou wou nooit luister na wat ek te sê gehad het nie want ek was net ’n deurmekaar spul met ADHD wat sleg gedoen het in skool en gesukkel het om op te let in klas. Juffrou sou eerder ’n onskuldige slim kind met goeie punte en ’n stabiele familie glo, iemand wat nooit die klas “ontwrig” het nie, as wat juffrou – of enigiemand – ooit vir my sou glo.
Ek onthou in graad 6 toe Rachel vir my ingelig het dat my netbalspan my nie in die span wou gehad het nie, omdat ek volgens hulle sleg gespeel het. Ek het vir baie lank sleg gevoel daaroor. Miskien was ek net ’n las wat my span afgebring het al het ek hoe hard probeer om ’n bydrae te maak tot ons sukses. En miskien, het ek gedink, sou die span beter wees sonder my daarin. Ek kom net in die pad van ons span se sukses, en ek weet nie hoekom ek ooit gedink het ek sou ’n goeie bydra kon maak nie. Want al wat ek nog ooit gedoen het was om in die pad te kom. As ek nou terugdink daaraan, was dit heel moontlik een van die redes waarom ek opgehou het met netbal.
In graad 7 het ek vir die eerste keer aanvaarding gekry by ’n klasmaat – ’n seun. Ons het langs mekaar gesit in die klas en ek het van hom gehou. Maar die aanvaarding het nie lank gehou nie want hoe meer hy my leer ken het, hoe minder wou hy met my te doen gehad het. Ek was te hiperaktief, te dom, te dromerig, te hoopvol, te irriterend, te vreemd, te ongewild, te lelik, te ék… Ek moes geweet het dat die vriendskap tussen ons nooit lank sou hou nie – nes al my vorige probeerslae met ander vriendskappe. En een van die aakligste dinge wat enigiemand ooit kan ervaar is wanneer iemand vir hulle die wêreld beteken, maar die ander wil niks met jou te doen hê nie. Ek neem hom nie kwalik of enigiets nie, ek weet dat ‘n mens nie met almal oor die weg te hoef kom nie, maar wanneer hierdie proses oor en oor herhaal word met verskillende mense kan ‘n mens net een ding aanvaar – dat jy eenvoudig net nie ‘n lekker persoon is nie. Ek is ‘n vervelige persoon en dit is waarom niemand naby my wil kom nie. Dit is onmoontlik om lief te wees vir my wanneer ek aan die binnekant so misluk is.
Ek weet nie waar ek hoort nie. My hele lewe lank is ek maar net ’n teenwoordigheid, en of ek nou teenwoordig is die een dag of nie, sal geen verandering maak aan die wêreld nie. Dit sal geen verandering maak in die mense wat ek glo ’n mens “vriende” sal noem nie. Ek is maar net teenwoordig, en ek weet dat almal so veel gelukkiger sou wees as ek nie was nie.
Ek is die stil, angstige kind wat in die klaskamer sit met oorfone aan.
Ek is die skaam, teruggetrokke kind wat bang is om dinge van myself met ander te deel.
Ek is die verwerpte kind wat gehoor wil word, wat spasie wil opneem, wat vir ander wil wys dat ek ook hier is.
Ek is ook hier…
Verwerping — Jani van der Watt